Wednesday, September 19, 2012

'n Welkome oordeel gevel

Soos Sigurd sou sê: Dankie, Ra!

Want Dredd, die jongste fliekweergawe van die gewelddadige Britse strokiesboekreeks Judge Dredd, is soos ‘n welkome baan sonlig in die neerdrukkende donkerte van ateljeeverpakte, OL13-flieks gegrond op strokiesboekkarakters waaraan volwasse fliekgangers die laaste paar jaar toenemend blootgestel is. En soos Robert Redford se karakter in An Unfinished Life oor Jehovasgetuies verklaar: Daar’s geen verskoning vir daai nonsens nie.

Want in geen stadium van die geveg is die Dredd-gegewe gesinsvriendelik nie. En in die gees van dié weiering om te konformeer dis Pete Travis, regisseur, en Alex Garland, draaiboekskrywer, ‘n stylvolle orgie van bloed, dwelms en ‘n propperse breinnaai op. En die beste van alles? Dredd is wáárlik Dredd: ‘n Man agter ‘n masker wat min praat en deurslaggewend optree.

Internasionaal ly Dredd onder vergelykings met die Indonesiese aksietreffer The Raid, wat met ‘n soortgelyke storielyn spog, maar laasgenoemde is nog nie in Suid-Afrika uitgereik nie. So, met ‘n relatief skoon palet kan mens die meeste van dié fliekondervinding maak. En dis sommer gou duidelik Dredd skud die nare nalatenskap van Sylvester Stallone se Judge Dredd met gemak af. Van laasgenoemde se kampgeit, belaglike blou kontaklense en Rob Schneider is daar genadiglik geen teken nie. (Mens mis wel Diane Lane, maar dit geld enige fliek waarin sy nié in ‘n nousluitende uitrusting verskyn nie.)

Die man agter die masker – en daai masker word nooit afgehaal nie, Sly – is Karl Urban en lanklaas was ‘n mond en ken so ‘n dwingende teenwoordigheid op ‘n rolprentskerm. Urban maak Dredd se dreigende en onheilspellende teenwoordigheid sy eie en kry dit reg om selfs met die sê van net een woord ‘n toneel te oorheers. Jip, jy wil weet Dredd handhaaf reg en orde “daarbuite”, maar jy wil hom so waar as wragtig nie vir ‘n braai nooi nie.

Vir die vorming van enige soort emosionele band met die karakters laat dit die kyker met die jong Olivia Thirlby, wat die rol van die nuweling Anderson vertolk. Sy’s ‘n begaafde “psychic”, maar ‘n onderpresteerder in die polisie-akademie. Onder Dredd se wakende oog kry sy vir oulaas kans om te bewys sy hoort in die Judges se geledere. Dit blyk weldra ‘n selfmoordsending te wees, want die twee geregsdienaars word in een van die wolkekrabbers in Mega-City One vasgekeer wanneer hulle die teregstelling van drie mans ondersoek. Die gebou word met ‘n ysterhand regeer deur die oudprostituut en deesdae dwelmtsaar Ma-Ma (‘n belittekende, vreesaanjaende Lena Headey), wat nie kan bekostig dat Dredd-hulle enige van haar handlangers by die polisiekantoor ondervra nie.


Ma-Ma se houvas word verpand in die vorm van die dwelmmiddel Slo-Mo, wat dit laat voorkom of tyd stadiger verloop. Al die dwelmneem-sekwense word in stadige aksie uitgebeeld – die treffendste is die eerste skote van Ma-Ma en ‘n skietgeveg tussen Dredd en ‘n paar verslaafdes – en dit dra tot Dredd se anderwêreldse, bloedbevlekte gehalte by. Thirlby – onthou haar nog as Juno se beste maatjie? – kwyt haar uitstekend van haar taak. Haar karakter se groei is deurgaans oortuigend en daarin laat Dredd die kyker met geen illusies oor wat dié nihilistiese toekomswêreld van sy polisiemag vereis nie. Dit verskaf die subteks wat aan Dredd, wat met ‘n bedrieglik eenvoudige storielyn spog, ‘n onverwagse diepte verleen. Dit laat mens besef agter daardie masker en onsimpatieke mond en gruis-stem skuil eindelik tog maar ‘n man van wie daar dag ná dag die onmoontlike verwag word. En wat dag ná dag daardie helm opsit.

Travis – op sy kerfstok is onder meer die belowende maar onvoldoende terreurriller Vantage Point – slaag in Dredd twee deurslaggewende toetse: Hy span sy stadige-aksie-skote oordeelkundig in én benut wraggies die 3D-tegnologie tot sy beskikking. En alles word gebaai in skakerings van swart, groen en bruin. Dis duidelik Dredd spog nie met die onlangse Batman-trilogie se begroting nie, maar die fliek lyk genadiglik nie “goedkoop” nie. ‘n Bonus vir Suid-Afrikaners en veral Kapenaars is die feit dat die grondvlak van Ma-Ma se gebou by KunsteKaap en die burgersentrum verfilm is.

Min strokiesboek-flieks laat reg aan die bronmateriaal geskied. Te dikwels word die boeke se boodskap in gesinsvriendelike sedelessies en bloedlose geweld verpak en dis maar ‘n handvol wat getrou aan hul oorsprong bly. Tim Burton se Batman, Watchmen, Constantine, Sin City en Tank Girl is maar ‘n paar. En nou kan mens Dredd by dié uitverkore groepie voeg.

Monday, January 23, 2012

Feniks van hoop


Loshande die beste ding van die vierde Tom Cruise-doen-James Bond-episode is die feit dat Brad Bird, skepper van The Incredibles, sy kans aan die stuur van ‘n groot konsessie-uitreiking – en dié keer met regte akteurs – kry.

Bird was ook regisseur van die kultus-animasieprent The Iron Giant (1999) en meer onlangs van Ratatouille (2007). Dalk is sy aanslag die rede waarom dié M:I-fliek se soms strokiesprentagtige aksie dalk effe beter as dié in nos. 2 en 3 vloei (of eerder aksie-fantasie; dié is nie ‘n Bourne-fliek nie), maar dis nie so oorspronklik soos mens dalk gehoop het nie. Ateljee-riglyne en die ster se vereistes het dalk swaarder as skeppende vermoë geweeg.

Dit help in elk geval niks met die feit dat Cruise nog Cruise is nie en hy’s steeds ‘n yslike bron van irritasie. Hy’t lanklaas in enige rol oortuig en kyk mens na sy pogings die afgelope dekade staan net drie vertolkings uit - dié in Minority Report (2002), Collateral (2004) en War of the Worlds (2005). Dit beteken Mapother IV het sewe jaar laas iets op die groot skerm gedoen wat mens nié na selfverminking gedwing het nie.

Mens kan wel ‘n traan wegpink vir Cruise, wat in Julie sy 50ste verjaardag vier, se waagmoed om kaalbolyf afgeneem te word en, nog heldhaftiger, ‘n mate van kwesbaarheid in die aksietonele te wys. Dié agent Ethan Hunt is duidelik ‘n man met harde myle op die klok, maar sy hart klop nog sterk – vir land én vroulief.

Die storie, geskryf deur Josh Appelbaum en André Nemec, is allermins oorspronklik en die karakters maar plankdun. Dié twee het al saam (ook saam met J.J. Abrams, regisseur van M:I III en hier vervaardiger) aan verskeie TV-reekse, waaronder Alias, gewerk en dit lyk nie of hulle die beperkings van TV-skryfwerk kan ontsnap nie. Hunt se IMF-eenheid word ontbind en hy en sy groepie kollegas moet vlug wanneer die aartskurk Kurt Hendricks (die Sweedse ster Michael Nyqvist) die Kremlin opblaas in dié se plan om ‘n kernoorlog te ontketen. Skok.

Die span kry die skynbaar onvermydelike onwillige en skeptiese lid in die gedaante van die The Hurt Locker-ster Jeremy Renner (wat veel geloofwaardiger as enige van die ander voorkom) by; Simon Pegg verskaf oudergewoonte die noodsaaklike komiese verligting; en Paula Patton (onthou haar van Tony Scott se Déjà vu?) die noodsaaklike borste en bene. Elkeen, behalwe vir Pegg, worstel met sy eie demone. Gaap.

Die aksie verskuif na Dubai – die fliek se hoogtepunt danksy sy vloerskuif-knoeiery en stofstorm-jaagtoneel – en van daar na Indië, waar die arme Anil Kapoor van Slumdog Millionaire-faam in ‘n rolletjie gedruk word wat mens laat skaam kry. Dié gedwonge tonele saam met Patton se karakter is die fliek se laagtepunt en opnuut ‘n bewys van wanneer dinge in dié soort ateljeeprent skeefloop, loop dit ordéntlik skeef. Darem werk Bird ‘n vermaaklike, Monsters Inc.-agtige aksietoneel in ‘n verdieping-parkeergebou in wat sake effens beredder.

Desondanks bied die vierde M:I-prent bied min wat mens opgewonde maak, behalwe om te hoop Bird kry sommer gou nog werk.

Wednesday, January 18, 2012

Die waarheid is daar êrens


Dis ‘n besonder tydige uitreiking van George Clooney se dromerige huldeblyk aan diegene in die Amerikaanse politiek wat nie onder die druk swig om hul beginsels te verloën nie.

Nie dat dit is waaroor die hogere getitelde The Ides of March handel nie, o nee. Dis eerder ‘n blik op die verlies van onskuld en idealisme. So tussendeur kry die politiek bewuste Clooney sy stekies in, maar dis maar verwaterde retoriek en daar’s min verband tussen sy goew. Mike Morris se soet klinkende uitlatings en die stryd wat op die oomblik aan die partypolitieke front in die VSA woed.

Die fokus val op Morris se jong veldtogwerker en strateeg Stephen Meyers (Ryan Gosling), wat volgens skynbaar almal se mening ‘n vlymskerp mannetjie is. Maar hy’s nie skerp genoeg om te weet mens slaap nooit ooit saam met die oulike juniors, in dié geval Molly (Evan Rachel Wood), in die span nie, selfs al dring hulle hul aan jou op. Of dat jy nooit ooit in die geheim saam met die teenstanders in ‘n donker kroeg kuier nie.

Maar daar sou nie veel van ‘n storie gewees het as Meyers ‘n bietjie ‘common sense’ aan die dag gelê het nie en derhalwe sit hy met die gebakte pere en kort voor lank word die man erg ontnugter. Nie dat dit regtig anders kan nie wanneer die hoofkarakter vroeg in ‘n fliek verklaar: “Ek sal enigiets doen; solank ek daarin glo.” Eina, Osama. Daarby kom die bykomende intrige van die problematiese sen. Thompson (Jeffrey Wright) en Morris se stemwerwery in Ohio aangelas voor.

Dalk sou The Ides of March groter trefkrag gehad het as dit nie gelyk het of Gosling met sy tong in die kies op die stel opgedaag het nie. Mens vermoed iemand soos Ryan Phillippe sou beter in dié rol gepas het, want aan die gedagte van Gosling as ‘n ontnugterde blinkoog-seun sluk ‘n mens maar swaar. Dit lyk of hy sy hand oorspeel. Daarom behoort die fliek se min treffende oomblikke aan Philip Seymour Hoffman as Meyers se geen-nonsens-baas Paul Zara en die ewe betroubare Paul Giamatti as Tom Duffy, wat Meyers vir sy span wil werf. Hulle maal hom maar goed fyn.

Nog ‘n pluspunt is Clooney, wat ook aan die draaiboek (gegrond op Beau Willimon se drama Farragut North) geskaaf het, se skikking van die storie in net 101 minute en die fotograaf Phedon Papamichael se gebruik van donker kleure, wat die verhaal soos ‘n riller laat afspeel en mens aan Roman Polanski se werk laat dink. Clooney is ook slim genoeg om sy spelers die ruimte te gun om hulself te kan uitleef en as Morris is hy grootliks op die agtergrond. Ongelukkig vir hom is nog iets op die agtergrond: die media. Dis skynbaar net die The New York Times-verslaggewer Ida Horowicz (Marisa Tomei) wat dié politiekery dek. Regtig, George?

Mens verwag ‘n groot gekonkel en bloed en derms wat spat en mense wat al skreeuende in mekaar se arms val soos daar aanvanklik in The Ides of March tekere gegaan word. Maar dan kom die effe voorspelbare ontknoping en dis eerder ‘n vuurpyltjie wat ontplof as ‘n vuurwerkfabriek.

Dis ironies dat Clooney met sy mees kommersiële poging en sterkste rolverdeling tot nog toe ook sy flouste fliek gemaak het. Dalk is dit waaroor Gosling so in sy mou grinnik.

Friday, December 30, 2011

Die goue droom


Drive is ‘n sprokie.

Maar ‘n sprokie soos A Fistful of Dollars en Wild at Heart ‘n sprokie is.

Dis ‘n sprokie wat met liefde geskep is en uitgebeeld word – van die amper anderwêreldse klankbaan en die vloeiende, pienk letters van die titel en akteurs se naam tot die nabyskote van sy hoofspeler en die kleurspel van toneel tot toneel.

Waarin die Deense regisseur Nicolas Winding Refn in maar sy tweede Engelstalige fliek so uitmuntend slaag is om ‘n parallelle heelal te skep waarin daar geen afdraaipad of maklike uitweg is nie. Dis ‘n wêreld waarin die kyker hom nie kan begeef nie, soos blyk uit die histeriese gelag van EI-lose fliekgangers wanneer die bloed eers begin spat. Dis ‘n wêreld waarin ander dalk die septer swaai, maar waarin Ryan Gosling se waaghals-en-wegkom-bestuurder die laaste sê het.

Gosling het eintlik maar twee of drie stukkies insiggewende dialoog in die fliek: wanneer hy sy werketiek aan voornemende kliënte verduidelik en wanneer hy sy oulike buurvrou, Irene (Mulligan), ‘n vlietende blik in sy hart gee. Andersins sê hy min en laat sy hande en voete die werk doen. Dis ‘n dans waarvan mens nie kan wegkyk nie; so mooi soos dit is, so vreesaanjaend is dit ook. Die waarskuwing van dit wat kom, is allermins subtiel: ‘n Voormalige “kliënt” knoop ‘n geselsie aan en Gosling se reaksie gryp die lug uit mens se longe.

Dis ‘n voorbode.

Nog ‘n voorbode is die heelwat rooi wat in talle skote gebruik word. Refn skep met sy gebruik van kleur – nogmaals rooi; ‘n bietjie blou – die soort atmosfeer wat Wong Kar Wai in In the Mood for Love oor die groot skerm laat spoel het. Dit word afgewissel deur “droomtonele” soos die een waarin die bestuurder Irene en haar seun op ‘n uitstappie in die vloedwaterkanale neem.

Maar dan slaan die harde en onvermydelike werklikheid met die komplimente van ‘n skynbaar wenkbroulose Albert Brooks en stiksienige Ron Perlman toe en dit tref mens soos ‘n hamerslag teen die voorkop. Refn wys nogmaals daarop, soos Michael Haneke dikwels regkry, dat woorde onnodig is wanneer jou beelde en akteurs sterk genoeg is. Dit word die beste geïllustreer in die ysingwekkende hysbaktoneel; ‘n sekwens wat Irene verwese en alleen laat.

Ja, daar’s raakpunte met Walter Hill se 70’s-riller The Driver met Ryan O’Neal en Isabelle Adjani, maar Drive is veel wanhopiger, bloot omdat Gosling se karakter, anders as O’Neal s’n, vir ‘n oomblik gehoop het op méér as die adrenalien wat die wegkom-jaagtog bied. Soos alle goeie sprokies is dié ‘n tragiese een.

Hierdie fliek, geskryf deur Hossein Amini (Jude en The Wings of the Dove, maar ongelukkig ook Killshot; gegrond op James Sallis se roman) behoort in gelyke mate aan Gosling en Refn. Hulle vertel hulle het die idee daarvoor gekry terwyl hulle in Los Angeles rondgery en na musiek geluister het. Hoewel dit ‘n gestroopte prent is wat dialoog en intrige betref, maak dit die impak daarvan nie minder nie. Die ontknoping is bietjie uitgerek, maar dis eerder ‘n waarneming as kritiek.

Dis ‘n versugting, maar mens hoop tog meer flieks soos Drive sien die lig. Dis ‘n prent wat die kyker uitdaag om sy grense te verskuif en mense met AAS uit sulke teaters behoort te hou.

Ka-ching, Oscar


Moneyball is ‘n langerige, groot en belangrike fliek – boonop met groot name (behalwe nou Steven Soderbergh s’n wat glo die pad gevat het ‘n paar dae voordat met verfilming begin sou word) – waarin eintlik maar ‘n baie eenvoudige punt gemaak word (lyk dit baie na).

Lewe in die oomblik.
Geniet elke deel daarvan; sonder om dit noodwendig te wil ontleed of in konteks te wil plaas. Moenie wag vir wat jy dalk dink die “groot oomblik” is nie. In The Handmaid’s Tale merk Margaret Atwood se hoofkarakter in ‘n stadium tereg op: “(Ondanks hul omstandighede en probleme) … was ons gelukkig en ons het dit nie eens besef nie.”

Moneyball, gegrond op Michael Lewis se gelyknamige 2003-roman en met die Capote-regisseur Bennett Miller aan die stuur, is eintlik maar ‘n halfbiografiese fliek oor die oudbofbalspeler en nou hoofbestuurder Billy Beane (Brad Pitt), wat steeds probeer om sy Oakland A’s na ‘n World Series-titel te stuur. Dis ironies. Veral wanneer mens na talle flieks kyk wat kwansuis op die werklikheid gegrond is: In baie gevalle is dit eerder op ‘n klein deel van die werklikheid gegrond. Soos in dié geval: Een, merkwaardige seisoen.

En hoewel dit seker maar oor bofbal gaan, gaan dit veel eerder oor Beane en die opdraandestryd wat hy op allerlei vlakke voer. Dié is ‘n fliek wat om Pitt gebou is soos Invictus om Morgan Freeman se behoefte aan ‘n Oscar vir ‘n Mandela-vertolking gebou is. Daar’s talle skote van Beane wat rigtingloos in sy SUV ry; van Beane wat sy kantoormeubels verinneweer; van Beane wat sy jong dogter verseker sy werk is nie in die gedrang nie. Baie van dit lewer nie veel van ‘n bydrae tot die storie nie. Hoeveel van Beane se gedagtes kan die kyker nou peil deur in die skemerte na die blink van sy een oog te kyk?

Maar dis nog altyd moeilik om nie van Pitt te hou nie en hier kry hy ‘n mens gou weer in sy hoek. Sy Beane beweeg van ‘n enigmatiese teenwoordigheid in die kantoor en ‘n bestuurder verwyderd van sy spelers na iemand wat die manne in die kleedkamer moed inpraat en jou waarlik ‘n bietjie emosie wys – hier ‘n klop op die skouer; daar ‘n stukkie raad. Dis in dié dele, en ook wanneer Beane in die bemagtigende lig van sy nuwe visie aan’t spelers verkwansel is of wanneer hy skaars sy ongeduld en frustrasie kan beteuel in sy onderonsies met sy afrigter, Art Howe (‘n besonder nors en bot Philip Seymour Hoffman; die antitese van sy titelkarakter in Capote), dat Pitt werklik skitter.

Die motivering vir sy houding word in ‘n mate in deurlopende terugflitse verskaf na sy werwing vir die topliga terwyl hy nog op skool was. Dit verleen aan die uitbeelding van sy karakter besondere diepte, veral omdat die jonger Beane haas g’n woord spraak nie. Die middeljarige Beane is ‘n man wat een ding baie goed ken: teleurstelling.

Daarby, en hoewel die hele uitgangspunt gegrond is op die objektiwiteit wat in ‘n wetenskaplike benadering bewerkstellig word, lê Moneyball se bekoring paradoksaal in daardie “iets” wat van die goeie sportfliek ‘n halfmagiese ervaring maak. Want maak nie saak hoe goed jou spelers, spankeuse en strategie is nie; as die sportgode daardie dag nie vir jou glimlag nie, kan jy maar vergeet. Een van Moneyball se beste tonele is die een waarin Bean se groep ervare talentsoekers kandidate bespreek. Die een word summier buite rekening gelaat omdat hy ‘n lelike meisie het. Dit dui op ‘n gebrek aan selfvertroue, sien?

Die man wat Beane die lig laat sien, is die bleeksiel-syferman-en-rekenaarfoendi Peter Brand (Jonah Hill). Dis ‘n fiktiewe karakter wat glo gegrond is op Beane se voormalige assistant, Paul DePodesta, ‘n man wat aan Harvard studeer het en deesdae talent vir die New York Mets opspoor en ontgin. Die normaalweg maniese Hill lewer stewige spel as Beane se onwaarskynlike bondgenoot en bied as waarnemer eintlik maar die kykerperspektief. Dis ‘n slim manier om die kyker nog verder te betrek.

Miller is ‘n man wat weet om ‘n storie te skik, soos hy in Capote gewys het. In Moneyball slaag hy weer daarin om ‘n flink pas te handhaaf en, ondanks die fliek se looptyd van langer as twee uur, voel dit nooit na ‘n uitgerekte affêre nie. Mens kan kritiek uitspreek wanneer daar nogmaals syfers en statistieke op die skerm geflits word om die boodskap tuis te bring, maar dis ‘n klein irritasie.

Maak seker ook nie eintlik saak nie, want dié is Pitt se fliek.
En bofbal s’n.

Tuesday, November 29, 2011

Jy laat my lag. En dis g'n grap


Twee dinge waarmee ons saamleef:
1. Die rol wat ouers in hul kinders se benadering tot die lewe speel, is bepalend; en
2. Sommige lesse gaan mens dalk nooit leer nie.

Ek kan seker byvoeg daar’s weinig absolute waarhede en mens moet nooit “nooit” sê nie, maar dis nie tersaaklik in dié bespreking van Beginners, een van die jaar se beste flieks, nie. Dis wel belangrik om te glo daar’s vir ons elkeen ‘n pasmaat. “True love and all that,” soos sy lyfbediende en later ook Frasier in een van dié sitkom se episodes verklaar.

Die kunstenaar Oliver Fields (Ewan McGregor) is alleen. Hy’s ook baie hartseer. Op ‘n onmiddellike vlak moet hy die onlangse afsterwe van sy terminal siek pa, Hal (Christopher Plummer), hanteer wat hy versorg het. Op ‘n dieper vlak worstel hy met sy onvermoë om verhoudings te laat werk. Die rede is die ooglopende ongelukkigheid in sy ouers se dekades lange huwelik. Ná sy ma se afsterwe vind hy uiteindelik die werklike rede daarvoor uit: Sy pa kondig aan hy’s eintlik gay. So ‘n ongelukkige verhouding is iets wat Oliver geen lewensmaat wil aandoen nie.

Maar, in die wonderlike strydigheid wat die lewe dikwels bied, gee hy nie moed op nie. Wanneer sy pa hom na sy mislukte verhoudings uitvra, sê Hal: Wag mens vir die leeu, of aanvaar jy die kameelperd wanneer dié opdaag?
Hy wag eerder vir die leeu, sê Oliver.

Die “leeu” daag op in die gedaante van die aktrise Anna (Mélanie Laurent), wat haar eie ouer-bagasie saamsleep. En, oudergewoonte wanneer iets wat al ‘n cliché (veral die “meet cute”) is op ‘n vars manier aangebied word, verhef die aweregse uitbeelding van hul ontmoeting en ontluikende romanse Beginners se intrige na die vlak van dié in Eternal Sunshine of the Spotless Mind en 500 Days of Summer. Dis Oliver en Anna se storie, ja, maar dis ook ‘n verhaal van liefde oor grense heen en van kanse vat in die geloof dat die moontlike beloning veel swaarder as die moontlike mislukking weeg.

Dis ‘n kragtoer deur die skrywer en regisseur Mike Mills, wat die aandag met die grootword-drama Thumbsucker (2005) getrek het. Sy skikking en aanbieding van die storie is allermins hoofstroom. Hy vertel die storie in terugflitse, wat die trefkrag van dié tonele verhoog omdat Oliver sy pa se afsterwe nog verwerk én dié lesse op sy verhouding met Anna van toepassing moet maak. En Mills maak a la Jason Reitman in Thank You for Smoking mildelik van grafika en argiefmateriaal gebruik. Daarby is die beligting natuurlik, wat sake veel geloofwaardiger as in die gemiddelde Hollywood-produk maak.

Mills slaag boonop daarin om uitsonderlike vertolkings van letterlik al sy spelers te verkry, waarskynlik omdat hy aan elkeen meer as genoeg gee om mee te kan werk. McGregor en Plummer is so goed soos hulle al op hul beste was, terwyl Laurent se spel ‘n openbaring is. Daarby verleen Goran Visnjic as Hal se minnaar en Mary Page Keller as Oliver se ma aan hul karakters ‘n diepte wat verbyster. Veral Keller skep een van die mees tragiese karakters vanjaar op die groot skerm.

En so groots as die vertolkings is, so intiem is Mills se fokus op die klein oomblikke – die tonele wat ‘n fliek tot ‘n kunswerk verhef en in die geheue laat vassteek. Dit geld van Oliver en sy ma se bestuursaanwysings tot die verliefdes se rolskaats-avontuur en park-manewales. Dis veel gesê dat nie eens ‘n hond se onderskrif-gedagtes sake beduiwel nie.

Beginners het die dramatiese trefkrag van Gus Van Sant se Milk of Tom Ford se A Single Man en die romantiese bekoring van Sunshine en Summer, maar staan sy eie skoene met gemak vol. Dis ‘n volmaakte oefening in fliekmaak.

Tuesday, November 15, 2011

Die kaalkop-waarheid


Dis waagmoedig om ‘n kankerstryd as ‘n komedie te bemark; mense neem tog so vinnig en uit beginsel aanstoot.

Maar hoewel 50/50 die verwagte emosionele knoppies druk wanneer hy sy deurslaggewende slottonele bereik, is die komedie-element allermins ‘n oorrompelende een.

Dis nogal moeilik om besonder entoesiasties te raak oor dié fliek, wat met ‘n sterk rolverdeling en hope belofte spog. Die groot probleem is daar’s niks nuut of grensverskuiwend nie. En dis ‘n slegte ding om van ‘n Joseph Gordon-Levitt-fliek te moet sê, want baie van sy flieks – Mysterious Skin, Brick en The Lookout – was nog altyd spesiaal. Maar in 50/50 bevind hy hom tussen die boom en die bas.

‘n Mens kan verstaan wat Gordon-Levitt en Jonathan Levine, regisseur, met Adam, die hoofkarakter, wil doen. Hy’s ‘n stil, netjiese kêrel wat geen kanse waag nie en doen wat van hom verwag word. Hy raak nie eens ontsteld oor die feit dat sy loskop-kunstenaarsmeisie (Bryce Dallas Howard) maande laas met hom seks gehad het nie. Selfs sy kankerdiagnose en -behandeling word heel rustig verwerk. Die probleem is, Adam is so ‘n vaal seun en toon so ‘n gebrek aan emosie dis moeilik om enigsens by hom of sy uitdagings – dis nou enigiets van sy vrees om te bestuur en sy “moeilike” ma (Anjelica Houston) ¬tot sy onervare berader (die oulike Anna Kendrick van Up in the Air-faam) – aanklank te kan vind.

Dis waar Seth Rogen as Kyle, Adam se beste vriend, in die prentjie kom. Hy’s die teenoorgestelde van Adam; luidrugtig; nie bang om laat te wees vir werk nie; en ‘n haan onder die henne. ‘n Tipiese Rogen-vertolking, dus, behalwe vir die feit dat sy karakter nie sukkel om aantreklike vroue huis toe te vat nie.

Levine, veral bekend om die tienerriller All the Boys Love Mandy Lane, volg nogmaals die gebaande weg. Hy daag nie die genre-grense uit nie en ontlok geen aardskukkende vertolkings van sy hoofspelers nie. Die probleem lê dalk by die skrywer, Will Reiser, se stereotipiese karakters; hulle is amper lagwekkend eendimensioneel en hul optrede voorspelbaar – van die kankerhandleidings en ondersteuningsgroepe wat in die geheim gepleeg word tot die kroegbesoeke om die kanker as verleidingstaktiek te kan gebruik. Dis veel gesê as talentvolle akteurs soos Gordon-Levitt en Houston sukkel om te oortuig.

Daar’s wel ‘n paar snaakse en aangrypende tonele, maar dit sal met dié gegewe moeilik wees om dit nié te kan vermag nie. Uiteindelik is die uitdaging van dié storie, om ‘n jong man se kankerstryd op ‘n humoristiese manier uit te beeld, te groot vir Levine en Reiser.

Wat was hul doen-lysie toe hulle met die verfilming begin het? En, wees eerlik, dit kan omtrent enige soortgelyke storie geld:
1. Hoofkarakter teruggetrokke en kommunikeer sleg; kankerdiagnose laat hom familie, vriende opnuut waardeer.
2. Meisie “cope” nie met situasie nie en verhouding verbrokkel.
3. Vriende, familie doen hul deel om hom te help.
4. Onverwagse band met jong, onervare berader.

Tiek, tiek, tiek en tiek.
Gaap.
DVD-winkel: Vanishing Point!